Stigting van die Ossewa Brandwag
"Op Saterdag 4 Februarie 1939 het 'n groep besielde Afrikaners in die konsistorie van die NG-Tweetoringkerk in Bloemfontein vergader en die Ossewa-Brandwag gestig. Al die teenwoordige persone is as lede ingesweer, met aflegging van 'n plegtige eed om nie te rus alvorens die vryheid van die Afrikanervolk herwin is nie.
Die Ossewa-Brandwag (OB) se wortels was diep ingebed in die geskiedenis van die Afrikaners se stryd om die bande met Brittanje te breek, om onderhorigheid aan 'n vreemde moondheid af te sweer, om - soos in die republikeinse era - oor sy eie lotgevalle te beslis." (Van der Schyff, P.F. 1991. Die Ossewabrandwag - Vuurtjie in droë gras. Potchefstroom: Geskiedenisdepartement, PU vir CHO)
Die Afrikaners het nog altyd die begeerte gehad om selfregering te hê. Dit is vergestalt in die Voortrekkers se trek uit die Kaapprovinsie in die vroeë 1800's en die daaropvolgende Vryheidsoorloë. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is die 1914-1915 Rebellie nog 'n uiting van hierdie vryheidsgedagte. Met die herdenking van die Groot Trek in 1938 het Afrikaner Nasionalisme 'n geweldige opwelling en groei ondervind wat die stigting van 'n Nasionale Afrikaner organisasie gestimuleer het en die Ossewabrandwag is toe gestig.
Suid-Afrika se betrokkenheid na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het baie verdeeldheid veroorsaak. Die Ossewabrandwag wou dan ook nie hê dat Suid-Afrikaanse soldate betrokke moes raak nie en het gesê dat die Duitsers nie ons volk se vyand is nie.
'n Meer aktiewe groep, nl. die Stormjaers, is dan ook as integrale deel van die Ossewabrandwag gestig. Dit was dan ook hierdie groep wat verantwoordelik was vir dade soos onder andere die knip van telefoondrade, ens. Hierdie optredes het dan veroorsaak dat baie Suid-Afrikaanse soldate teruggehou moes word om stabiliteit hier in Suid-Afrika te verseker en dus nie teen Duitsland hoef te gaan veg nie.
In die Senekal en omgewing was die plaas Biddulphsberg 'n baie sentrale plek in aktiwiteite van die Ossewabrandwag en Stormjaers. Daan Erasmus, die destydse eienaar van die plaas, was 'n baie prominente figuur hierin. Verskeie vergaderings, boodskappe en reëlings is hier getref.
Stormjaers wat onder verdenking was by die polisie, en dus voortvlugtigend was, is hier gehuisves, of tydelike skuiling gebied tot hulle vervoer kon word na ander plekke.
Gebuite brandstof (petrol) is ook hier in dromme begrawe. Dit is gebruik vir aktiwiteite en organiserings. Brandstof kon andersins slegs met koeponne verkry word. Van die voortvlugtendes is dan ook hier gevang op 18 April 1944 en is Daan Erasmus as medepligtige ook gevange geneem.
So het Adv. Jan Strydom, Jannie Rigter, Johannes Cronje en Stoffel Pretorius saam met Daan Erasmus in die tronk in Bloemfontein beland. Hulle is nie aangekla nie en is slegs aangehou. 'n Ontsnapping is beplan en 'n rewolwer in die tronk ingesmokkel. Vir ontspanning is die gevangenes in die binnehof toegelaat vir stap en rook. Sondagmiddag, 11 Junie 1944, is beplan vir die ontsnapping, Nic Coetzee moes die voertuig reël om mee weg te kom. Hy het sy plig na gekom, ten spyte van 'n beenbreuk op die rugbyveld, en die voertuig by die tronk in die straat besorg en op krukke die straat af verdwyn. Die gevangenes het toe reeds vir weke aanmekaar in die rondte gestap en naby die traliedeur, waar 'n wag in die "kraaines" gesit het, gedraai. Soos gewoonlik het 'n swart gevangene die wag se koppie koffie om drie uur gebring en dié ritueel is gevolg: die traliedeur is oopgesluit en die gevangene het die wag se koffie gebring, die volgende traliedeur word dan oopgesluit en die koppie koffie word binne die "kraaines" neergesit. Dit was die teken en groot Johannes Cronje was natuurlik reg agter die koffiedraer. Een harde stamp met die knie van agter en 'n paar groot hande op die wag en die sleutels na buite was beskikbaar. Jan Rigter het gaan probeer om die alarm onskadelik te stel, maar kon dit nie reg kry nie. Hy neem toe 'n helmet, plaas dit op sy kop en salueer sy offisier D Erasmus wat rustig sit en pyp rook, en stap daarna na die wagtende motor waarin die ander reeds gesit en wag het. Hy het geweier om te hardloop vir die vyand. Daardie aand het die vier mans in die Molopo geslaap.
Daan Erasmus is deur Adv. Strydom aangeraai om nie te ontsnap nie, want as die ander weg is, sou die staat nie meer 'n saak teen hom hê nie. Hy word toe nie aangekla nie, en na 'n tyd het hy toe op 'n hongerstaking gegaan, maar het darem water gedrink. Na agt dae is hy wel aangekla en kon hy op borgtog uit die tronk uit kom. Hy was skaars 'n paar weke terug op die plaas, toe 'n vriend hom waarsku dat hy geïnterneer gaan word. Hierop vlug hy na die Wes-Kaap en skuil by verskeie vriende. Uiteindelik keer hy weer terug na Senekal en neem sy intrek in 'n kloof, later genoem Klein Duitsland. Hier het hy lank geskuil saam met Lother Sittig.
Die einde van die oorlog het vrywaring gebring en kon Daan Erasmus terugkeer na sy plaas en familie. Vir Lother Sittig, 'n Duitser van oorsprong, was dit nog gevaarlik en het hy in die kloof agtergebly, waar hy sy tyd verwyl het deur erosieslote met klipwalle te pak. Hy het eers te voorskyn gekom nadat die Nasionale Party die verkiesing van 1948 gewen het.